red line
   Back to Archives
   Back to IF Home







Dagboek na selfmoord


Deur Rea de Miranda
black line


Daar is soveel verskillende stadiums van rou emosies wat ‘n ouer deurgaan na die selfmoord van ‘n kind dat jy op ‘n stadium voel jy besig is om heeltemal kranksinnig te word. Heel eerste in die meeste gevalle is ontkenning. Toe ek my seun Emile (20) op 5 Februarie 2006 daar sien lê onder die wilgerboom waar hy homself die vorige nag opgehang het wou ek nie glo wat my oë sien nie. Ek was heeltemal oortuig daarvan dat ek droom. Ek het hom aangekyk asof dit heeltemal ‘n leuen was. Daar is dae wat ek myself verwyt omdat ek hom nie daar vasgehou het en totsiens gesê het nie. Maar op daardie oomblik wou ek net by die huis kom want ek wou dit net eenvoudig nie glo nie. Dit was nie waar nie, dit was nie my kind wat daar dood gelê het nie. Maande daarna het ek nog verwag dat hy enige oomblik by die deur gaan instap en vir my vertel waar hy rêrig was. Ek het selfs kort na sy dood gedroom dat hy na my toe kom en sê dat hy nie dood is nie, dit was als met opset gedoen omdat hy weg wou kom. Ek het maande lank boodskappe na sy selfoon gestuur en hom gevra om te kom kuier en gevra of hy gelukkig was. Ek het in my verstand geweet ek gaan geen antwoord kry nie, maar my hart het vas bly glo dat hy sal terug antwoord. Niemand het geweet van dit nie want ek was oortuig ek gaan kranksinnig verklaar word en opgesluit word.

Dan kom die absolute woede. Woede teenoor jou kind, woede teenoor die Here en woede teenoor kinders wat nog lewe en ouers waarmee die afskuwelike ding nie mee gebeur het nie. My woede was meesal teenoor my kind. Ek kon nie verstaan dat hy so ‘n vreeslike ding aan my kon doen nie. Ek het op hom geskreeu en gevra waarom hy die onsinnige daad gedoen het en my lewe verwoes het. Daar was dae wat ek gevoel het ek wens ek kan hom nou in die hande kry en hom vreeslik hard klap sodat hy kan voel hoe seer ek het. Ek wou hom ruk en pluk en vra hoe durf hy my deur hierdie pyn gesit het. Hoe kon hy dit aan my doen? Daar was ook vreeslike woede teenoor myself omdat ek gevoel het dat dit my toedoen was dat hy selfmoord gepleeg het. Die dag tevore het ons ‘n argument gehad en ek het nie weer met hom gepraat nie. Daarmee saam kom die vreeslike selfverwyt. Alles wat verkeerd gegaan het in Emile se lewe was my fout. Ek wou gestraf word omdat hy so seer gehad het om sy lewe te neem. Op een dag het ek probeer om die boom af te brand waar hy dit gedoen het. Ek het die polisie geskakel en toe hulle daar aankom het ek aangedring daarop dat ek toegesluit moet word. Hulle wou dit nie doen nie en ek het baklei en gesê dat ek ‘n brand gestig het en ek moet arresteer word. Hulle was so moedeloos met my dat hulle na ‘n lang gesprek met die polisie kapelaan besluit het om dit te doen. Terwyl ek daar in die sel gesit en huil het, het dit vir my gevoel dat ek boetedoening vir als wat verkeerd was in my kind se lewe doen. Dit het nie gehelp nie. Ek het vir maande na hy weg is onthou hoe stil hy was in die maand voor sy dood en ek het myself verwyt omdat ek nie met hom gepraat het en gevra het wat fout was nie. Almal vertel jou dis nie jou skuld nie, maar jy glo dit nie. Ons as ma’s is mos veronderstel om te weet as daar iets fout is met ons kind. Hulle hele lewe lank probeer ons hulle beskerm teen die seer van die lewe en hier het ek dit dan nie gedoen nie.

Mens begin dink jy kry Alzeimer’s want jy kan glad nie onthou waar jy is of was of waarheen jy oppad is nie. Jy sit wasgoed in die wasmasjien en vergeet heeltemal daarvan en ontdek dit dae daarna. Ek het kos gemaak en vergeet dat ek dit gemaak het en wegneemetes gaan koop. Daar was party dae wat ek oppad iewers heen gery het en ewe skielik nie meer kon onthou waarheen ek wou gaan nie. Dit raak vreesaanjaend omdat jy oortuig is jy word mal. Jou gedagtes is so besig om te dink aan jou kind dat daar nie plek is om op enigiets anders te kan konsentreer nie. Ek kon vir maande lank nie lees nie want terwyl ek lees dink ek aan Emile en moes dan teruggaan op die bladsy omdat ek nie kon onthou wat ek gelees het nie. Omdat jou gedagtes so besig is met jou kind kan jy ook nie kuier en oor gewone dinge gesels nie. Alle gewone dinge klink vir jou na onsin. Jy luister na wat almal sê en wonder hoe kan hulle aangaan asof niks verkeerd is nie en hier sit jy met ‘n groot gat in jou hart. Baie ouers raak afgesonder van ander mense omdat hulle nie oor elke dag se ditjies en datjies kan praat nie. Die pyn is so oorweldigend dat jy liewer nie met ander “gewone” mense wil meng nie. Hulle verstaan in elk geval nie waarom jy na ‘n paar maande nog nie “oor” dit is nie.

Die goeie nuus is dat mens weldra weer kan begin lewe. Jou gedagters word nie meer so heeltemal oorheers deur jou hartseer en pyn nie. Daar kom dae wat jy voel dat daar nog iets in die lewe is om voor te lewe. Dit is nie maklik om daar uit te kom nie. ‘n Mens het baie trauma berading en rou terapie nodig om deur al die dinge van ‘n selfmoord van jou kind te kan werk. Daar is nog dae wat jy so ontsettend na jou kind verlang dat jy voel jy kan aan ‘n gebroke hart gaan sterf. Maar die rustige tye tuseen die hartseer word langer en meer draagliker. Praat soveel as wat jy kan van jou geliefde kind. Baie mense vermy die onderwerp maar dit help nie die ouer om beter te word nie. Al wat help is om te praat en te praat totdat jy voel dat alles uitgepraat is. Ons kan dinge aanmekaar herhaal maar dit help met die herstel van ons gebroke siel. Enigiemand wat wil praat en ‘n uitlaatkelp nodig het kan my enige tyd skakel. Ek weet presies hoe jy voel want het die prys betaal net soos jy en ek sal luister. My e-pos is rea@vodamail.co.za


white divider