red line
   Back to Archives
   Back to IF Home







Hoe lewe ek met my kind se selfmoord?


Deur Rea Miranda
black line


EmileDit was ‘n lieflike rustige sondagoggend, op 5 Februarie 2006, to my lewe in ‘n oogwink onherroeplik verander het. Ek en my man was op pad na die kafee toe daar ‘n noodvoertuig met flitsende ligte en sirenes by ons verbygejaag het. Ek het in my onwetenheid aan my man gesê ek wonder wie is nou dood. Intussen was die voertuig op pad na die toneel waar my seun Emile (20) gedurende die nag homself in ‘n wilgerboom in ‘n park naby ons huis opgehang het. Ek sal daardie woorde nooit ooit vergeet nie. Sowat ‘n halfuur na ons terug was by die huis het kinders van die buurt by ons hek my jongste seun geroep. Hulle het hom ingelig dat ‘n jong man selfmoord gepleeg het in die park en hulle het vermoed dis sy broer. Ons het haastig soontoe gery. Die park by die boom het soos ‘n misdaadtoneel gelyk. Nood en polisievoertuie en polisibeamptes was oral. Die plek waar my kind onder die boom gelê het was met polisie lint toegemaak. Ek het vir die trauma beampte gesê dat ek dink dit my kind was. Hy het my na sy liggaam gelei en die bedekking opgelig. Ek het verdwaas na my kind gekyk. Dit was soos ‘n droom, ek kon nie my oë glo nie. Dit kon nie waar wees nie. Ek het oor en oor my man gevra of ek droom, dit kon nie Emile wees wat daar dood lê nie. Alles het soos ‘n nagmerrie gevoel, die lig was skerp en daar was ‘n gedruis in my kop. Die trauma beampte het met ons gepraat maar ek kon niks verstaan wat hy probeer sê nie. Ons het huistoe gegaan en ek het al my familie en vriende en Emile se vriende geskakel om die nuus oor te dra. Niemand het my geglo nie want ek het nie gehuil nie en het dit gesê asof ek ‘n doodgewone ding vertel het. Al wat die hele tyd in kop rondgemaal het was: “Dit kan nie wees nie, dit kan nie wees nie. My kind kan nie dood wees nie. Dit is net ‘n nare nagmerrie en ek gaan enige oomblik wakker word.” Ek het die sondagaand tot my sinne terug gekeer en besef dat dit werklik was. Ek het nooit die betekenis van ween verstaan nie, maar ek het daardie nag vir ure lank geween, en die daaropvolgende weke. Dit het gevoel asof ek besig was om kranksinnig te word. My gedagtes was in ‘n warboel en ek het die hele tyd angstig gevoel. Ons moes my seun die maandagoggend by die staatlykshuis gaan uitken en dit was die mees afgryslikste ondervinding. Ek kon nie glo dat hy daar leweloos lê nie. My hart was verskeur en ek het gevoel asof ek aan ‘n gebroke hart gaan sterf. Elke dag was ‘n nagmerrie. ‘n Deel van myself het saam met my kind gesterf en ek kon nie normaal funksioneer nie. Ek het feitlik elke dag vir weke landk in die bed gebly en my hart uitgehuil. Elke nag het ek vervaard op die internet gaan rondsoek na iewers waar ek hierdie onbeskryflike pyn met iemand kon deel. Ek het gedurig radio kansel se beraders geskakel en die storie oor en oor vertel in die hoop dat iemand dit beter kon maak. Niemand kon my help nie. Daar is geen hulp vir die ontsettende pyn wat ‘n ouer deurmaak na die selfmoord van ‘n kind nie. Niemand verstaan wat jy voel nie. Daar is niks wat enigiemand kan sê om jou beter te laat voel nie. Ek het weke lank amper niks geëet nie en nooit gekook of wasgoed gewas nie. Dit het gevoel asof ek heeltemal alleen op die aarde was. Ek kon glad nie ‘n toekoms sonder my kind insien nie. Ek kon glad nie dink nie en kon niks onthou wat met my gebeur of wat enigiemand vir my gesê het nie. Die ergste ding was dat Emile geen briefie agtergelaat het nie. Ek het soos ‘n besetene mens oral gesoek na enige iets wat my kon laat verstaan waarom hy dit gedoen het. Ek het die plek onder die boom gefynkam na ‘n stukkie papier met ‘n verklaring. Ek het tussen sy klere rondgekrap en elke stukkie papier bestudeer om te sien of daar iets is wat my ‘n idee kon gee waarom. Die vrae dryf my nog steed sinneloos. Waarom, hoekom? Wat was verkeerd wat ek nie gesien het nie? Was ek so blind en selfsugtig dat nie nie agtergekom het daar was iets verkeerd met my kind nie? Ek blameer myself nog steeds omdat ek nie gesien het wat besig was in sy gedagtes nie. Mense in hul onkunde sê die eenvoudigste goed vir ‘n ouer in hierdie omstandighede. “Jy het darem nog ‘n ander kind, hy ly nie meer nie, jy moet sterk wees, sy siel gaan nooit rus nie, jy moet nou oor dit kom, ek weet hoe jy voel, jy moet jouself regruk, daar is ander dinge om voor dankbaar te wees, moenie meer daaroor praat nie dan sal jy vergeet!” Wanneer ek hierdie dinge hoor wil ek skreeu en sê “Jy weet nie waarvan jy praat nie, mens kan jouself nie regruk nie, mens kan nie vergeet nie. My kind is dood en ek weet nie hoekom nie!” Gelukkig het ek met my internet soeke ‘n ondersteunings groep in Amerika ontdek wie se lede almal ‘n kind deur selfmoord aan die dood afgestaan het. Hierdie groep wonderlike mense het my gedurende hierdie afgryslike tyd ondersteun met liefde en geduld en my telkens van myself gered. Ek was op ‘n selfmoord misie van my eie vir ‘n paar maande en het in die hospitaal beland nadat ek ‘n oordosis kalmeerpille geneem het. Ek weet nie wat van my sou word as ek nie hierdie ondersteuningsgroep ontdek het nie. Geen mens kan deur hierdie situasie kom sonder hulp nie. Dit is soos ‘n emosionele wippland ryery, jy weet nooit hoe jy die volgende oomblik gaan voel nie. Een oomblik is jy in ‘n diep donker put van hartseer en pyn, die volgende is jy so woedend omdat hierdie afskuwelike ding met jou gebeur het. Dan is daar dae wat mens heeltemal rustig voel. Ander dae kan mens net aanmekaar huil en voel asof jy nooit weer ‘n normale lewe gaan he nie. My siening van die lewe het heeltemal verander, en dinge wat voorheen saak gemaak het is glad nie meer vir my belangrik nie. Ouers wat in hulself in hierdie situasie bevind en geen bystand het nie kan my enige e-pos by rea@vodamail.co.za Almal het ondersteuning nodig gedurende hierdie rouproses wat geen sin maak nie. Daar is hulp en bystand vir ons gedurende hierdie hel.


white divider